Lamsboud met geelperskes
April 29, 2012 in hoofmaal
Elke jaar, net na die Kersfees en skuins voor Nuwejaar, het ek, Die Groot Gryse en Blinkstefaans die pad Suid-Kaap toe gevat. Gemmerkat, in sy mandjie en goed ge-rescue remedy, natuurlik ook saam.
Dit was tradisie, hierdie drie-dae-lange ekskursie Groot-Brakrivier toe. Maar Gemmerkat en Die Groot Gryse is lankal nie meer nie en Blinkstefaans het koers gekies oorkant die Vaal.
Een van die dinge wat ek mis, is die stop by daardie wonderlike slaghuis op Ashton. Die slaghuis behoort aan die Heunis-familie en almal werk daar saam — pa, seun, skoondogter … Vir die mans gee hulle ‘n visite-kaartjie met ‘n foto van ‘n leeu en vir die vroue ene met ‘n oulike grys strepieskat. “My vleis kom ook van Ashton slaghuis.” en “Beste kwaliteit en diens suid van die noordpool.”
Gewoond aan die selfhelprakke van die stad se supermarkte en die vleis wat so klinies verwerk en verpak is dat dit byna nie meer smaak na die dier wat daarvoor geoffer is nie, stry ek beslis nie. En met ‘n spesiale besoekersboek wat vir hul celebrity kliente gehou word, was Die Groot Gryse in sy element.
Ons het gewoonlik daar by die Heunisse op pad Grootbrak toe gestop. Die manne het vleis vir die braai gesoek en ek biltong en droewors vir die pad. Met die terugkom, was dit tyd vir die GROOT koop — van die lekkerste snitte vir die huis.
Vir my was dit gewoonlik heel lamskenkels, lamsboud, lamsnek en ‘n bladjie. Ek het nie ‘n ding oor wors nie — ek verkies die lekker dun lamswors van Woolies, maar Die Groot Gryse was baie lief vir die Ashton wors.
Die laaste keer wat ons daar gestop het, het ek die lekkerste lamsboud gekoop. By die huis het ek met verskillende kombinasies in my kop begin speel, want ek wou ‘n bietjie wegbreek van my gewone resepte en iets werklik spesiaal maak.
Ek het die boud eers ‘n dag lank laat lê in witwyn, met ‘n paar stukkies gemmer en ‘n minneola in die helfte deurgesny. Met die uithaalslag — ‘n bietjie winddroog gemaak – meng ek Maldon sout, vars gemaalde swartpeper en mosterdpoeier en sny ‘n paar gaatjies waarin ek van hierdie mengsel, ‘n knoffelsplinter en ‘n skyfie geelperske druk. Toe smeer ek die boud met olyfolie en die res van die sout-peper-mosterdmengsel. Onder in die oondbak sny ek rooiuie, die res van die geelperskes en nog ‘n paar knoffeltoontjies. Daarna roer ek ‘n bietjie Dijon-mosterd by die wyn waarin die vleis gemarineer het (die minneola gooi jy weg), maak die bak in foelie toe en sit dit in die oond by 180ºC vir so ± 2 uur, afhangende van hoe groot die boud is. Aan die einde haal ek die foelie af en braai dit mooi goudbruin.
Ek was jare laas by die slaghuis en my lamsvleis kry ek nou van elders. Maar die resep het gebly . . . die herinneringe ook. Wanneer die geure in my kombuis hang, hoor ek hoe Die Groot Gryse behaaglik die lug snuif en ek kan sweer ek voel Gemmerkat hier by my voete.








Recent Comments