‘n Passie vir Kook

April 29, 2012 in kookboeke

‘n Passie vir kook — ek weet nie waar dit vandaan kom of waar dit begin het nie, of dit ‘n seën of ‘n straf is nie. Miskien het dit begin toe ek met die boer getroud was en skielik gekonfronteer is met ‘n vrieskas vol wildsvleis en snitte waarvan ek nog nie eens gehoor het nie.

Ek het gaan hulp soek by Tant Ina en dadelik vir my ‘n Kook en Geniet aangeskaf. Toe het ek myself begin leer — en gelees en gelees en gelees. Baiekeer sit ek soggens vyfuur al met my eerste koppie koffie — donkergeroosterde koffiebone varsgemaal vir my moka — en ‘n resepteboek op die skoot.

My begroting is in sy moer as ek van ‘n nuwe kookboek hoor of lees — ek rus nie voordat ek dit het nie. En dit bekruip my op die vreemdste plekke  . . .

Nou die dag ontdek ek my Videoman (ek dink steeds so aan hom al hou hy deesdae net DVDs aan) is ‘n kosskrywer van formaat. ‘n Gedeelde passie is ‘n wonderlike ding …

Hy vertel my sy buurman het vreeslik verskoning gemaak dat hy hom en sy lewensgenoot een aand laat kom opklop het — so asof hy gedink het hy het ‘n passievolle aand van bedkaskenades onderbreek. “My dier,” giggel Videoman, ” na agttien jaar saam, is die enigste passie wat ons deel, die resepteboeke wat ons in die bed lê en lees!”

So met die gesels kom ons op die onderwerp van Tessa Kiros — ‘n heerlike warm kombuismens wat met die eenvoudigste bestanddeel ‘n wêreld van geure en smake kan optower.

Ek dink toe eers hy praat van Tessa se Twelve en Falling Cloudberries, maar toe kom ek agter daar’s ‘n nuwe een van haar waarvan ek nie eens geweet het nie — A is For Apple. Net daar besluit ek ek MOET die boek hê — Videoman durf nie alleenreg daarop hê nie!

Die res van die maand het ek maar skraps geleef, want haar boeke is nogal duur. Maar dit was oor en oor die moeite werd! Haar kaneelryke piesangbrood is onbeskryflik lekker en die “chocolate chip and cranberry cookies” is “simply to die for”!

2 responses to ‘n Passie vir Kook

  1. Jy’s n paar boeke van Tessa Kiros agter- Apples for jam is uitgegee voor haar boek oor Venesië, en haar laaste titel was “Food from many Greek Kitchens”. Die lams-youvetsi uit Falling Cloudberries bly een van my gunstelinge, maar jou moussaka resep troef haar weergawe loshande.

    • Hallo,

      Dis lekker om weer van jou te hoor. Nee, toe nie — ek is net skaam om te wys hoe groot my verslawing eintlik is — ek het hulle almal. Falling Cloudberries, Apples for Jam, Twelve, Venezia (Ek het selfs die Venezia notaboek), Piripiri Starfish en Food From Many Greek Kitchens. Dankie vir die wonderlike woorde oor my moussaka-resep — sal dit vir altyd in my hart bewaar..

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Switch to our mobile site