Smoorsnoek vir my pa
April 29, 2012 in seekos
My pa was lief vir lekker eet. Van kos maak het hy nie veel geweet nie. En hy het die kuns verstaan om hom netjies uit die braaiery te wikkel. . Hy was nie vreeslik vol fiemies nie en het nogal ‘n wye verskeidenheid kosse geniet. Maar oor smoorsnoek het hy gevoel soos Esau oor Jakob se lensiesop. Ek kon met hom toor as ek dit vir hom gemaak het.
En dis eintlik vreeslik maklik en (nou nog) goedkoop om te maak. Dis net daardie vlokkery van die vis wat jou onderkry — ‘n mens se hande ruik nog ‘n dag of twee daarna na vis. Maar die gereg is baie bevredigend. Dis ook nie net my pa wat so voel nie. Die Groot Gryse was dol daaroor. En die vreeslike grend vrou wat hier uit Parys (Frankryk) gekuier het, het net Michelin vurkies uitgedeel nadat sy dit geproe het.
Jy het nodig
700 g gerookte snoek
3 gekapte uie
1 klein rissie, ontpit en gekap
3 aartappels, in blokkies gesny
2 klein tamaties, in stukke gesny
swartpeper na smaak
30 g botter (37,5 ml)
200 ml melk
suurlemoensap
olyfolie
So maak mens
Vlok die gerookte snoek. Soteer die ui en rissie in ‘n bietjie olie en voeg dit by die vis. Braai nou die aartappelblokkies tot goudkleurig en voeg saam met die ander bestanddele by die vis. Kook die mengsel goed deur. Ek gebruik baiekeer eerder ‘n bietjie droë witwyn as suurlemoensap om die gereg ‘n bietjie klam te maak. Moenie te veel roer sodat dit in ‘n moes verander nie.
Dien op saam met rys.








Recent Comments