Coq au vin

April 30, 2012 in Hoender, hoofmaal

 

Coq au vin
(oftewel – ʼn baie dronk hoender,
dalk waar die uitdrukking `hoenderkop’ vandaan kom)

Hierdie is ʼn baie ou dis wat, soos die legende dit wil hê, geskep is deur Julius Caesar. ʼn Groep Galliërs word in tipiese Asterix-styl deaur een van Caesar se regimente vasgekeer. Om aan die Romeine te wys dat hullle genoeg voorrade het om hulle deur die beleg te dra, stuur die Galliërs toe ‘n ou hoenderhaan aan die vyand met dié boodskap: ‘Bon Appetit!’ Caesar het toe onmiddellik die leiers van die Galliërs vir ete genooi en die hoenderhaan, wat in wyn en seldsame kruie gekook is) aan hulle voorgesit met die belofte dat hy hulle die resep sou laat kry indien hulle oorgee. Hy het hulle ook die versekering gegee dat hulle en hul nasate vir die res van hul lewens goed sou eet en leef. Het hulle hom geglo? Die legende sê nie  . . .

As jy nie rooivleis kan eet nie, is hierdie hoenderdis seker die mees bevredigendste. Dit het al die troos en robuuste smaak van ‘n boertige bredie. En dis so aanskoulik om te maak.

Jy het nodig

Snitte van die hoender soos jy daarvan hou (borsies, dytjies of sommer die hele toetie)
botter (vir die braaislag – olyfolie gaan nie werk nie, want die brandewyn het die botter nodig vir daardie sonderlinge smaak.)
piekeluie (die grootte, nie werklik gepiekel nie)
‘n paar gekneusde knoffeltoontjies (moenie skaam wees nie)
meelblom
gedroogde tiemie
sout en peper na smaak
‘n teelepel tamatiepasta
sampioene
‘n Goeie skoot brandewyn (verkieslik 10-jaar-oue KWV – dis die naaste aan konjak)
Goeie rooiwyn (moenie wyn wat jy self nie sal drink nie oor kos gooi nie)
ertjies
vars tiemie

Meng die meelblom, gedroogde tiemie en sout en peper in ‘n plat bord. (Ek vat sommer altyd ‘n kleinerige skinkbord.) Neem die hoenderstukke en druk dit in dié mengsel sodat dit aan alle kante mooit bedek is met ‘n meel-kruie-lagie.
Verhit nou die botter in ‘n swaarboompot. Braai die hoenderstukke daarin tot goudbruin. Haal uit en plaas eenkant op ‘n bord.

Braai nou die piekeluie, knoffel en sampioene  in die bottermengsel en plaas die hoenderstukke weer terug in die pot. Laat goed warm word. Gooi dan die brandewyn bo-oor en gee so ‘n minuut kans voordat jy dit met ‘n vuurhoutjie aan die brand steek. Laat die vlamme goed bedaar voordat jy die rooiwyn oorgooi. As die vlamme te erg is, kan jy altyd die rooiwyn gebruik om dit te blus.
Roer nou die tamatiepasta deur en rangskik die vars tiemietakkies bo-oor.
Verlaag die hitte en plaas ‘n deksel op die pot. Teen dié tyd is jou oond al verhit tot 180ºC. Haal van die stoof af en sit die pot in die oond vir ongeveer 1 uur. Ongeveer 15 minute voor die einde van die kooktyd kan jy die ertjies (as dit bevrore is) byroer. Haal die tiemietakkies uit.

Bedien met ‘n lekker Franse knoffelbrood.

PS. Die idee is natuurlik dat jou gaste al vroegaand saam met jou in die kombuis kuier met rooi wyn en ‘n paar happies en dat hulle toekyk wanneer jy die brandewyn vlam. Indrukwekkend. Dit kan natuurlik ‘n groot verleentheid wees wanneer jy nog nie vertroud met die resep is nie en voor almal jou hare en wenkbroue afskroei. Been there, done that, have the T-shirt  . . .

3 responses to Coq au vin

  1. Heerlik!!!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Switch to our mobile site