Kerrie-eiers
April 30, 2012 in eiergeregte

Vir my is die eet die laaste deel van die ritueel. Vir my begin dit alles by daardie eerste klontjie botter wat in die pan smelt, die ruik van vars lemmetjie aan my vingers en die malse geure van vars kruie wat ek in my hande kneus.
Maar eintlik is dit ook die vooraf uitdink, die samestelling van smake om die palet van elke tafelgenoot te pas. Dis soos om ‘n gedig te skryf – om beelde te vind wat sin maak en mekaar nie weerspreek nie, om ‘n ritme te soek wat eindelik woordmusiek maak en gemaklik op die tong en oor gaan lê.
Ek kan nie kook wanneer ek vir iemand kwaad is nie. Dis dan wanneer die eenvoudigste ou dingetjie in ‘n nagmerrie ontaard en alles flop – selfs die geregte wat ek normaalweg toe-oë kan maak. Soos die keer toe daai Franse bitch kom kuier het . . . maar dis ‘n ander storie.
Vandat ek kon onthou assossieer ek kos met rituele. Ek het altyd by Oupa Frans gesit wanneer hy soggens ontbyt geëet het. Hy het sy British made checkback kamerjas en sy pantoffels aangetrek en aan die hoof van daardie lang eettafel gaan sit. Vandat ek kan onthou, was daardie tafel altyd gedek – ‘n spierwit damask-tafeldoek met ‘n beskermende plastiekkleed bo-oor, agt plekke gedek met tafelmatjies, gestyfde wit servette en ‘n volledige stel eetgerei vir ‘n driegangmaal.
Oupa het altyd met sy pap begin. Dan het hy die eierkelkie met sy gekookte eier geneem en met een haal die kop van die eier met sy mes afgekap. Dié het hy vir my gegee – dié dat ek vandag nog so lief is vir die wit van ‘n gekookte eier.
En een van my gunsteling-eiergeregte — ‘n regte trooskombersie — is kerrie-eiers:
Jy het nodig
3 medium uie in skywe gesny
12.5 ml botter
500 ml kookwater
20 ml koekmeelblom
20 ml kerriepoeier
5 ml mosterd
3 ml borrie
sout en peper na smaak
125 ml asyn
125 ml water
37,5 heuning
hardgekookte eiers, afgedop
So maak mens:
Soteer die uie in die botter tot net sag.
Voeg die kookwater by.
Meng die droë bestanddele met die asyn, water en heuning tot ‘n gladde mengsel en voeg dit by die uie en kookwater. Roer goed.
Kook tot glad en dik, roer gedurig.
Sny die eiers middeldeur en gooi genoeg van die warm sous oor die eiers om hulle te bedek.
PS. Hierdie sous kan ‘n paar weke lank in ‘n digte houer in die koelkas gehou word.
Die sous kan ook werk vir ‘n kerriepiesangslaai.







Recent Comments