Beskuit vir ‘n blitsontbyt
August 2, 2012 in Beskuit en kleinkoekies
Die Groot Gryse het altyd aan sy paar stukkies growwe beskuit in die oggend geglo. Dan hoef hy nie tot ontbyt te wag om sy pille weg te sluk nie. En wanneer hy die dag haastig is, is die beskuit sommer sy ontbyt. Die paar keer wat hy in die hospitaal beland het, was die lekkerste vir hom wanneer ek ‘n pakkie beskuit daar aandra. Die ander bederfies het hy waardeer, maar beskuit is die één ding waarsonder hy nie kon klaarkom nie. Dit was die swaarste vir hom wanneer hy by ander mense oorgebly het en daai beskuite ontbreek by sy oggendkoffie.
Ek geniet ook beskuit, maar ek kou dit net so droog en sluk die koffie agterna. Ek haat dit om sawwe beskuitkrummels onderin my koffiekoppie te hê en kan dit nie oor my hart kry om ‘n stuk beskuit in daai kosbare oggend-skop te doop nie.
Toe ek op universiteit was en in die koshuis gebly het, was die gewilde kuierplek saans by die een wat lekker beskuit van die huis af gekry het. Ek het in ‘n stadium uitgegaan met ‘n honneurs-fisika-student wat hopeloos te slim was en wie se idee van ‘n lekker naweek-afspraak was om saam in die Fisika-gebou te gaan sit en swot. Ek was eerstejaar en dit was beslis nie my idee van pret nie. Veral nie wanneer die geur van bloureën en jasmyn swaar in die lug gehang het nie . . .
Maar die man was baie mooi, lank en donker, en boonop het sy ma vir hom ‘n hele 10 liter plastiekemmer vol beskuit saamgestuur wat hy met groot seremonie by my aangedra het met die opdrag om te hou vir wanneer hy by my kom koffie drink (wat baie gereeld was). Nodeloos om te sê, ek was die gewildste meisie in die koshuis en toe ek hom die dag die emmer in die hand stop en die deur wys, was daar aansienlik minder beskuite oor. Teen daai tyd was ek so gatvol vir die slimme meneer dat ek nie eens skuldig gevoel het nie.
Ons ou boerenasie het ‘n lang geskiedenis wanneer dit by beskuite kom. Trouens, biltong en beskuit is so deel van ons kultuur as wat Coca-Cola en Pepsi nou van die wêreldkultuur is.
Volgens H.W. Claassens in Die Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806, kom die woord beskuit uit die Frans wat “twee keer gebak beteken”. Die woord het inslag gevind en is gekies bo die dialektiese Nederlandse woord, tweebak. Dit was eintlik nie so snaaks dat hulle die Franse woord gekies het nie. Die meeste Nederlanders was daai tyd Frans magtig. Frans was gedurende die vorige eeu die amptelike taal van Holland. Trouens, die heerser van daai tyd, Willem die Swyger, se huistaal was Frans.
Claassens vertel dit het alles begin toe die Franse hul soldate oorlog toe gestuur het met ‘n slopie van dié goed – biscuit de guerre, het hulle dit genoem. Dit was sulke regte klinknael-beskuite (soos die goed wat my ma gebak het wanneer sy geweier het om by die resep te hou), “haas oneetbare beskuit van meel en water”, aldus Claassens. Ek stel my voor as die soldate onder mekaar stry gekry en hulle mekaar met dié goed getakel het, kon hulle net sowel op die slagveld gewees het.
Die VOC se skeepsbeskuite was nie veel beter nie. Claassens haal Peter Kolbe (Naauwkeurige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop) aan. Dié goed was glo so hard dat ‘n mens dit “naauwlyks met de tanden kan meester worden”.
En toe die tantes saam met Jan van Riebeeck op daai skip klim en die eerste keer van daai beskuite proe, het hulle met ‘n tongklik al begin dink hoe hulle, wanneer hulle weer aan wal kom, hul hande in die deeg gaan steek en daai ou reseppie gaan verbeter.
Maar dit sou ‘n hele paar jaar neem. Volgens Claassens was onse Jan en sy mense vir ‘n hele paar jaar aangewese op “hartbrood”, die gedroogde brood wat deur die skepe daar aangebring is. Partykeer was dit so muf wanneer dit daar afgelewer word, dat dit sommer dadelik vir die varke gevoer is. Dis nou volgens die inskrywings in jan se dagboek.
Die tantes was toe al meer as keelvol. En teen die tyd dat die eerste twee beskuitresepte in De Volmaakte Hollandsche Keukenmeid van 1761 verskyn (aldus Claassens), toe was die tantes hier aan die Kaap al vlytig aan die bak – lank voor die gepubliseerde ou reseppies – en die matrose het behoorlik bakhand gestaan vir slopies van daai bederfies. Ook die reisigers wat die lang verkenningstogte na die binneland moes aanpak.
“ . . . versoeke is meermale tot die burgers gerig om beskuit aan vlote te lewer. Op 25 April 1740 is alle ingesetenes van die Kaap byvoorbeeld gevra om aan goewerneur Swellengrebel te rapporteer hoeveel beskuit hulle in die volgende week aan die Engelse vloot sou kon lewer. Toe die inwoners van die Kaap op 4 Maart 1760 met ‘n plakkaat verbied is om enige gebak aan die Franse vloot te lewer, was daar na raming reeds dertigduisend pond beskuit verkoop.” (H.W. Claassens, Die Gekiedenis van Boerekos 1652 – 1806)
Ek onthou die suurdeegbeskuite wat ons kleintyd saam met oggendkoffie aan my ouma se blougeverfde geelhouttafel (!!!!) in die kombuis langs die ou houtstoof sit en eet het. Karringmelk bly my gunsteling, die ongesonde spierwit een. Maar ek sal glad nie nee sê vir die gesonde nefie met die growwigheid en al daai heerlike sade in nie.
Jy het nodig
1 kg bruismeel
200 g suiker
220 g semelverrykte volkoringmeel
1½ koppie gemengde sade (jy kry wonderlike saadmengsels by die supermark of by gesondheidswinkels)
15 ml bakpoeier
5 ml sout
2 eiers, liggies geklits
625 ml karringmelk
400 g gesmelte botter, gesmelt en afgekoel
So maak mens
Plaas al die droë bestanddele in ‘n groot mengbak, meng goed en maak ‘n gaatjie in die middel waarin jy die karringmelk, geklitste eiers en gesmelte botter gooi. Roer nou totdat alles goed gemeng is. Neem drie gesmeerde middelslag broodpannetjies en verdeel die mengsel gelykop. Maak dit mooi gelyk bo-op en bak in ‘n voorafverhitte oond van 180˚C vir ongeveer 45 minute of tot goudbruin. Wanneer jy ‘n metaalpennetjie insteek, moet dit skoon uitkom. Laat dit vir vyf minute afkoel voordat jy dit op ‘n draadrak uitkeer en heeltemal laat afkoel voordat jy dit eers in skywe van ongeveer 20 mm en daarna in netjiese vingers sny. Pak die vingers so ‘n paar millimeter uitmekaar op bakplate en droog in ‘n baie koel oond (60 – 70˚C) vir ongeveer 6 – 8 uur of oornag. Gebruik ‘n houtlepel om die oonddeur effe oop te hou sodat die klammigheid kan ontsnap terwyl die beskuite droog. Die resep lewer ongeveer 120 beskuite en kan tot ‘n maand lank hou in ‘n lugdigte houer. As jy ‘n groter hoeveelheid beskuit op ‘n slag wil bak, maak dit eerder in sarsies aan sodat jy dit makliker kan meng. Moenie meer as die hoeveelhede hierbo op een slag probeer aandurf nie.








pinkpolkadot said on August 2, 2012
Ek het nou baie lekker gelees aan jou beskuit storie!! Ek self is mal oor ‘n stukkie beskuit saam met boeretroos!
Toorkombuis said on August 2, 2012
Baie dankie!
Toorkombuis said on November 1, 2012
Dankie!
Ilse said on October 31, 2012
Geniet jou blog en resepte vreeslik baie.
Toorkombuis said on November 1, 2012
baie, baie dankie!