You are browsing the archive for hoofmaal.




Spinasietert

May 20, 2012 in hoofmaal, Uncategorized

Ek raak nou heel voorstedelik. Ek het een naweek twee ete-uitnodigings van die hand gewys om in die tuin te werk. Ek en my buurvrou gesels elke oggend oor die heining en ek was glad by haar seuntjies se skoolkonsert.

Maar ek het lanklaas so geanker gevoel, miskien deels omdat ek nader aan die aarde woon en nie op ‘n verdieping waar ek op die balkon moet tuinmaak nie. Die ander is omdat ek nie ‘n tuin vol stilte om my het nie maar die geluide van lewe en die alledaagse wat voor my afspeel.

Soggens hoor ek hoe die seuntjies langsaan lag en gesels op pad by die deur uit om skool toe te gaan. In die park voor my stap mense met hul honde en die fikses draf die bult uit.

Ek het kop en hart verloor – dit het my heel onverwags bekruip . . .  En ek moet erken dit het my ietwat van balans gegooi. Maar nou haal ek die mooi uit elke oomblik en laat dit my lewe verryk sonder om te tob oor wat vorentoe gaan gebeur.

En na ‘n aantal groeipyne en ‘n paar vuurdope begin my droomwerk ook nou vir my meer van ‘n werklikheid word – met sy oppe en affe en al. My skedule begin sin maak en so tussen die moet-kokery deur maak ek weer tyd vir kook-vir-die-lekkerte.

My groenteman het vir my lekker spinasie gebring en ek moes net eenvoudig ‘n plan maak met die groen weelde:

Jy het nodig

500 g vars spinasie (nadat die wit stukke weggesny is), gesnipper
4 x 250 g houertjies gladde maaskaas
5 eiers
2 eetlepels vars gekapte dille of 1 eetlepel droog
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
‘n handvol kersietamaties, gehalveer
1 koppie gekrummelde fetakaas

So maak mens

Maak jou spinasie goed droog. Plaas dit in ‘n groot mengbak saam met die maaskaas, eiers, dille, sout en peper en meng goed. Giet dit in ‘n 3 liter oondvaste bak Sprinkel die fetakaas bo-oor en rangskik die tamatiehelftes met die oop kant na bo bo-op. Bak vir ongeveer ‘n uur of totdat dit gestol en effe ligbruin bo-op is. Jy kan dit warm of koud eet en dit maak ‘n heerlike ligte middagete saam met ‘n kraakvars slaai en ‘n stukkie growwebrood.

Coq au vin

April 30, 2012 in Hoender, hoofmaal

 

Coq au vin
(oftewel – ʼn baie dronk hoender,
dalk waar die uitdrukking `hoenderkop’ vandaan kom)

Hierdie is ʼn baie ou dis wat, soos die legende dit wil hê, geskep is deur Julius Caesar. ʼn Groep Galliërs word in tipiese Asterix-styl deaur een van Caesar se regimente vasgekeer. Om aan die Romeine te wys dat hullle genoeg voorrade het om hulle deur die beleg te dra, stuur die Galliërs toe ‘n ou hoenderhaan aan die vyand met dié boodskap: ‘Bon Appetit!’ Caesar het toe onmiddellik die leiers van die Galliërs vir ete genooi en die hoenderhaan, wat in wyn en seldsame kruie gekook is) aan hulle voorgesit met die belofte dat hy hulle die resep sou laat kry indien hulle oorgee. Hy het hulle ook die versekering gegee dat hulle en hul nasate vir die res van hul lewens goed sou eet en leef. Het hulle hom geglo? Die legende sê nie  . . .

As jy nie rooivleis kan eet nie, is hierdie hoenderdis seker die mees bevredigendste. Dit het al die troos en robuuste smaak van ‘n boertige bredie. En dis so aanskoulik om te maak.

Jy het nodig

Snitte van die hoender soos jy daarvan hou (borsies, dytjies of sommer die hele toetie)
botter (vir die braaislag – olyfolie gaan nie werk nie, want die brandewyn het die botter nodig vir daardie sonderlinge smaak.)
piekeluie (die grootte, nie werklik gepiekel nie)
‘n paar gekneusde knoffeltoontjies (moenie skaam wees nie)
meelblom
gedroogde tiemie
sout en peper na smaak
‘n teelepel tamatiepasta
sampioene
‘n Goeie skoot brandewyn (verkieslik 10-jaar-oue KWV – dis die naaste aan konjak)
Goeie rooiwyn (moenie wyn wat jy self nie sal drink nie oor kos gooi nie)
ertjies
vars tiemie

Meng die meelblom, gedroogde tiemie en sout en peper in ‘n plat bord. (Ek vat sommer altyd ‘n kleinerige skinkbord.) Neem die hoenderstukke en druk dit in dié mengsel sodat dit aan alle kante mooit bedek is met ‘n meel-kruie-lagie.
Verhit nou die botter in ‘n swaarboompot. Braai die hoenderstukke daarin tot goudbruin. Haal uit en plaas eenkant op ‘n bord.

Braai nou die piekeluie, knoffel en sampioene  in die bottermengsel en plaas die hoenderstukke weer terug in die pot. Laat goed warm word. Gooi dan die brandewyn bo-oor en gee so ‘n minuut kans voordat jy dit met ‘n vuurhoutjie aan die brand steek. Laat die vlamme goed bedaar voordat jy die rooiwyn oorgooi. As die vlamme te erg is, kan jy altyd die rooiwyn gebruik om dit te blus.
Roer nou die tamatiepasta deur en rangskik die vars tiemietakkies bo-oor.
Verlaag die hitte en plaas ‘n deksel op die pot. Teen dié tyd is jou oond al verhit tot 180ºC. Haal van die stoof af en sit die pot in die oond vir ongeveer 1 uur. Ongeveer 15 minute voor die einde van die kooktyd kan jy die ertjies (as dit bevrore is) byroer. Haal die tiemietakkies uit.

Bedien met ‘n lekker Franse knoffelbrood.

PS. Die idee is natuurlik dat jou gaste al vroegaand saam met jou in die kombuis kuier met rooi wyn en ‘n paar happies en dat hulle toekyk wanneer jy die brandewyn vlam. Indrukwekkend. Dit kan natuurlik ‘n groot verleentheid wees wanneer jy nog nie vertroud met die resep is nie en voor almal jou hare en wenkbroue afskroei. Been there, done that, have the T-shirt  . . .

Mangoblatjang

April 29, 2012 in hoofmaal, oop- en toebroodjies


Kyk, ek was nog altyd ‘n groot fan van Miesies Ball’s. Daar is min blatjang wat by haar oorspronklike resep kan kom. Maar ek het ‘n kleintjie dood aan sogenaamde kokke wat blatjang by alles moer — selfs al is dit Miesies Ball’s. Wanneer jy blatjang byvoeg, smaak alles na . . . blatjang. Jy moet baie seker van jou saak wees — is dit wat jy regtig beplan het? Ek gebruik feitlik nooit blatjjang in ‘n resep nie, behalwe wanneer ek kerrie-eiers à la Kook en Geniet maak of iets wat regtig daarna vra. Vir my is en bly dit die wonderlikste towerpotjie op die tafel wat elkeen kan byvoeg na smaak. (Proe tog net in hemelsnaam die kos voordat jy dit met blatjang doodmoer en die kok snikkend kamer toe laat vlug!)

Een van my ander gunstelinge is mangoblatjang. Jy moet so ‘n bietjie soek om dit in die hande te kry. Ek het my voorgeneem om hierdie seisoen my eie mangoblatjang te maak, maar tot dan koop ek maar. Van die groot supermarkte hou dit so once-in-a-bluemoon aan. (Ek het dit al by Woollies en Pick ‘n Pay opgespoor, maar dit was ‘n vloekskoot.) Toe ek nou die dag egter komyn en foelie-spesery by Atlas Trading Store gaan koop het, het ek toevallig uitgevind hulle hou dit aan. Vra vir Sweet Mango Chutney.

Hier is die twee wonderlikste resepte met mangoblatjang. Klink eenvoudig, maar dis ongelooflik lekker!

Hoender gemarineer in Jogurt en Mangoblatjang

(Hierdie resep kom uit Anneka Manning se Good Food (Konemann). Anneka is die kosredakteur van die tydskrif Australia’s Good Food.)

Jy het nodig

Een hoender van 1,8 kg  (of hoenderstukke)
Olyfolie

vir die marinade
500 g (2 koppies) Bulgaarse jogurt
120 g (⅓ koppie) mangoblatjang
1 teelepel borrie
½ teelepel wonderpeper (allspice)

So maak mens

Meng die jogurt, mangoblatjang, borrie en wonderpeper goed. Spoel die hoender onder koue lopende water en droog liggies met ‘n papierhanddoek. Gebruik ‘n lepel om die marinade in die hoenderholte te skep en gebruik dan jou hande om die res van die marinade aan die buitekant van die hoender te smeer om dit heeltemal te bedek. Sit die hoender in ‘n bak, bedek en laat vir ten minste ‘n uur lank in die yskas marineer. (Dis natuurlik beter om al die geure oornag te laat intrek.) Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer ‘n oondpan met die olyfolie. Sit die honder in die pan en rooster vir ongeveer 1½  uur of tot die sappe helder vloei wanneer jy die boud met ‘n skerp pen toets. Haal uit die oond, bedek losweg met foelie en laat 15 minute lank rus voordat jy dit tafel toe neem. Ek het al die wonderpeper en borrie met paprika vervang en dis net so lekker.

Die oorskiethoender smaak ook heerlik koud. Ek sit die oorskietvleisies op ‘n warmgemaakte panini met ‘n mengsel van vars roket, jongspinasie en waterkers (jy koop die mengsel so saam by Woolies. Enige blaar sal werk — maar dit gaan beslis nie dieselfde smaak nie!). Bo-op kom ‘n ruim skeppie mangoblatjang en ‘n blertsie creme fraiche of lekker dik Griekse jogurt.

My ander  groot mangoblatjang-gunsteling is hierdie een (en ek is mal oor die storie):

Dronkmansbroodjie

Die heerlike dekadente toebroodjie het sy naam gekry by ‘n edelman wat graag laatnag in drinkplekke gekuier het oor glase en glase pienk jenewer. Hy het dan gewoonlik die kok opdrag gegee om vir hom dié toebroodjie op te dis.

Jy het nodig:

(Per persoon)

2 snye roosterbrood of 1 dikker sny vir ‘n oopbroodjie
Botter
Gerookte salm
Mangoblatjang
Warm, brosgebraaide spek
Rooipeper (cayenne)

So maak mens:

Botter elke snytjie roosterbrood. bedek met ‘n dik laag gerookte salm. Smeer ‘n titseltjie mangoblatjang bo-oor (baie min, anders word die subtiele salmsmaak oordonder. Sprinkel die spek en rooipeper bo-oor. Bedek met tweede sny of bedien net so oop.

PS. Wees versigtig met die rooipeper. Net ‘n titseltjie is genoeg.

Jy hoef nie groot te drink om die broodjie te geniet nie. Dis ‘n baie lekker ligte aandete, veral na die oordaad van ‘n groot Sondagmiddagmaal.

Lamsboud met geelperskes

April 29, 2012 in hoofmaal

Elke jaar, net na die Kersfees en skuins voor Nuwejaar, het ek, Die Groot Gryse en Blinkstefaans die pad Suid-Kaap toe gevat. Gemmerkat, in sy mandjie en goed ge-rescue remedy, natuurlik ook saam.

Dit was tradisie, hierdie drie-dae-lange ekskursie Groot-Brakrivier toe. Maar Gemmerkat en Die Groot Gryse is lankal nie meer nie en Blinkstefaans het koers gekies oorkant die Vaal.

Een van die dinge wat ek mis, is die stop by daardie wonderlike slaghuis op Ashton. Die slaghuis behoort aan die Heunis-familie en almal werk daar saam — pa, seun, skoondogter … Vir die mans gee hulle ‘n visite-kaartjie met ‘n foto van ‘n leeu en vir die vroue ene met ‘n oulike grys strepieskat. “My vleis kom ook van Ashton slaghuis.” en “Beste kwaliteit en diens suid van die noordpool.”

Gewoond aan die selfhelprakke van die stad se supermarkte en die vleis wat so klinies verwerk en verpak is dat dit byna nie meer smaak na die dier wat daarvoor geoffer is nie, stry ek beslis nie. En met ‘n spesiale besoekersboek wat vir hul celebrity kliente gehou word, was Die Groot Gryse in sy element.

Ons het gewoonlik daar by die Heunisse op pad Grootbrak toe gestop. Die manne het vleis vir die braai gesoek en ek biltong en droewors vir die pad. Met die terugkom, was dit tyd vir die GROOT koop — van die lekkerste snitte vir die huis.

Vir my was dit gewoonlik heel lamskenkels, lamsboud, lamsnek en ‘n bladjie. Ek het nie ‘n ding oor wors nie — ek verkies die lekker dun lamswors van Woolies, maar Die Groot Gryse was baie lief vir die Ashton wors.

Die laaste keer wat ons daar gestop het, het ek die lekkerste lamsboud gekoop. By die huis het ek met verskillende kombinasies in my kop begin speel, want ek wou ‘n bietjie wegbreek van my gewone resepte en iets werklik spesiaal maak.

Ek het die boud eers ‘n dag lank laat lê in witwyn, met ‘n paar stukkies gemmer en ‘n minneola in die helfte deurgesny. Met die uithaalslag — ‘n bietjie winddroog gemaak –  meng ek Maldon sout, vars gemaalde swartpeper en mosterdpoeier en sny ‘n paar gaatjies waarin ek van hierdie mengsel, ‘n knoffelsplinter en ‘n skyfie geelperske druk. Toe smeer ek die boud met olyfolie en die res van die sout-peper-mosterdmengsel. Onder in die oondbak sny ek rooiuie, die res van die geelperskes en nog ‘n paar knoffeltoontjies. Daarna roer ek ‘n bietjie Dijon-mosterd by die wyn waarin die vleis gemarineer het (die minneola gooi jy weg), maak die bak in foelie toe en sit dit in die oond by 180ºC vir so ± 2 uur, afhangende van hoe groot die boud is. Aan die einde haal ek die foelie af en braai dit mooi goudbruin.

Ek was jare laas by die slaghuis en my lamsvleis kry ek nou van elders. Maar die resep het gebly . . . die herinneringe ook. Wanneer die geure in my kombuis hang, hoor ek hoe Die Groot Gryse behaaglik die lug snuif en ek kan sweer ek voel Gemmerkat hier by my voete.

 

Switch to our mobile site