Spinasietert
May 20, 2012 in hoofmaal, Uncategorized
Ek raak nou heel voorstedelik. Ek het een naweek twee ete-uitnodigings van die hand gewys om in die tuin te werk. Ek en my buurvrou gesels elke oggend oor die heining en ek was glad by haar seuntjies se skoolkonsert.
Maar ek het lanklaas so geanker gevoel, miskien deels omdat ek nader aan die aarde woon en nie op ‘n verdieping waar ek op die balkon moet tuinmaak nie. Die ander is omdat ek nie ‘n tuin vol stilte om my het nie maar die geluide van lewe en die alledaagse wat voor my afspeel.
Soggens hoor ek hoe die seuntjies langsaan lag en gesels op pad by die deur uit om skool toe te gaan. In die park voor my stap mense met hul honde en die fikses draf die bult uit.
Ek het kop en hart verloor – dit het my heel onverwags bekruip . . . En ek moet erken dit het my ietwat van balans gegooi. Maar nou haal ek die mooi uit elke oomblik en laat dit my lewe verryk sonder om te tob oor wat vorentoe gaan gebeur.
En na ‘n aantal groeipyne en ‘n paar vuurdope begin my droomwerk ook nou vir my meer van ‘n werklikheid word – met sy oppe en affe en al. My skedule begin sin maak en so tussen die moet-kokery deur maak ek weer tyd vir kook-vir-die-lekkerte.
My groenteman het vir my lekker spinasie gebring en ek moes net eenvoudig ‘n plan maak met die groen weelde:
Jy het nodig
500 g vars spinasie (nadat die wit stukke weggesny is), gesnipper
4 x 250 g houertjies gladde maaskaas
5 eiers
2 eetlepels vars gekapte dille of 1 eetlepel droog
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
‘n handvol kersietamaties, gehalveer
1 koppie gekrummelde fetakaas
So maak mens
Maak jou spinasie goed droog. Plaas dit in ‘n groot mengbak saam met die maaskaas, eiers, dille, sout en peper en meng goed. Giet dit in ‘n 3 liter oondvaste bak Sprinkel die fetakaas bo-oor en rangskik die tamatiehelftes met die oop kant na bo bo-op. Bak vir ongeveer ‘n uur of totdat dit gestol en effe ligbruin bo-op is. Jy kan dit warm of koud eet en dit maak ‘n heerlike ligte middagete saam met ‘n kraakvars slaai en ‘n stukkie growwebrood.











Recent Comments