You are browsing the archive for kookboeke.




‘n Passie vir Kook

April 29, 2012 in kookboeke

‘n Passie vir kook — ek weet nie waar dit vandaan kom of waar dit begin het nie, of dit ‘n seën of ‘n straf is nie. Miskien het dit begin toe ek met die boer getroud was en skielik gekonfronteer is met ‘n vrieskas vol wildsvleis en snitte waarvan ek nog nie eens gehoor het nie.

Ek het gaan hulp soek by Tant Ina en dadelik vir my ‘n Kook en Geniet aangeskaf. Toe het ek myself begin leer — en gelees en gelees en gelees. Baiekeer sit ek soggens vyfuur al met my eerste koppie koffie — donkergeroosterde koffiebone varsgemaal vir my moka — en ‘n resepteboek op die skoot.

My begroting is in sy moer as ek van ‘n nuwe kookboek hoor of lees — ek rus nie voordat ek dit het nie. En dit bekruip my op die vreemdste plekke  . . .

Nou die dag ontdek ek my Videoman (ek dink steeds so aan hom al hou hy deesdae net DVDs aan) is ‘n kosskrywer van formaat. ‘n Gedeelde passie is ‘n wonderlike ding …

Hy vertel my sy buurman het vreeslik verskoning gemaak dat hy hom en sy lewensgenoot een aand laat kom opklop het — so asof hy gedink het hy het ‘n passievolle aand van bedkaskenades onderbreek. “My dier,” giggel Videoman, ” na agttien jaar saam, is die enigste passie wat ons deel, die resepteboeke wat ons in die bed lê en lees!”

So met die gesels kom ons op die onderwerp van Tessa Kiros — ‘n heerlike warm kombuismens wat met die eenvoudigste bestanddeel ‘n wêreld van geure en smake kan optower.

Ek dink toe eers hy praat van Tessa se Twelve en Falling Cloudberries, maar toe kom ek agter daar’s ‘n nuwe een van haar waarvan ek nie eens geweet het nie — A is For Apple. Net daar besluit ek ek MOET die boek hê — Videoman durf nie alleenreg daarop hê nie!

Die res van die maand het ek maar skraps geleef, want haar boeke is nogal duur. Maar dit was oor en oor die moeite werd! Haar kaneelryke piesangbrood is onbeskryflik lekker en die “chocolate chip and cranberry cookies” is “simply to die for”!

Juffrou Berta se boeke

April 29, 2012 in kookboeke

Ek vrek oor kookboeke — en ek het letterlik duisende van die goed. Maar die maak nie saak hoe vinnig die goed aanwas nie — ek onthou die storie agter elkeen, waar elkeen vandaan kom en wat of wie my geinspireer het om dit te koop (of by wie ek dit present gekry het!

Twee van die boeke laat my altyd glimlag en met deernis terugdink aan ‘n baie spesiale mens (eintlik twee mense) wat ‘n baie groot rol in my lewe gespeel het.

Juf. Bertha Smit was hoofredakteur toe ek destyds by die uitgewers begin werk het. Sy was deel van die dertigers – N.P.van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Hettie Smit en so aan – en ek kon my verluister het aan haar stories.

Sy het pryse gewen met haar roman Die Vrou en die Bees, maar toe een resensent haar Die Man met die Kitaar afmaak met ‘n snedige “hierdie kitaar het net een snaar”, het sy nooit weer iets gepubliseer nie. Tot kort voor haar dood toe sy almal stilgeskryf het met haar bekroonde Juffrou Petronella Vlug Vorentoe.

Sy het my vertel dat sy nog nooit kon kos maak nie. Sy het geskryf toe die ander meisies van haar ouderdom voorskoot aangestrik en deur ma by die kombuiskultuur ingelyf is. Maar sy was min gepla. Saans het sy vir haar ‘n aartappel gekook, ‘n tjop gebraai en ‘n stukkie tamatie daarby gesny. Elke aand.

Toe sy in haar nuwe woonstel in Seven Oaks intrek, het haar gay buurman, wat haar toe skaars geken het, gevra dat sy na sy plante kyk terwyl hy in Frankryk gaan toer. Om dankie te sê, bring hy toe vir haar die ultimate Franse Kookboek, Julia Child, Louisette Bertholle en Simone Beck se Mastering the Art of French Cooking met die inskripsie “Pour mon amie des plantes, Lekker kook! ”.

Hierdie formidabele kosskrywers doen dinge nog op die regte, ou manier en kortpad kies is taboe. As jy een van daai resepte aanpak, moet jy jou maak klaarmaak vir ten minste drie dae voor die stoof.

Nie vir Berta nie. En toe Buurman haar nou eers beter leer ken — ná verskeie gekookte aartappels, tjops en tamaties — het hy sy fout agtergekom. Toe gee hy vir haar Cook Book for Clots met dié inskripsie: “To the biggest of them all! from Wesley.”

Hierdie twee boeke was onder die wat sy vir my gegee het toe sy haar woonstel opgegee en by haar suster gaan woon het. (Aan die suster het ek ook baie goeie herinneringe — sy het in ‘n stadium vir my Engels op universiteit gegee — ‘n sagte siel en ‘n briljante dosent.)

Switch to our mobile site