Mangoblatjang
April 29, 2012 in hoofmaal, oop- en toebroodjies

Kyk, ek was nog altyd ‘n groot fan van Miesies Ball’s. Daar is min blatjang wat by haar oorspronklike resep kan kom. Maar ek het ‘n kleintjie dood aan sogenaamde kokke wat blatjang by alles moer — selfs al is dit Miesies Ball’s. Wanneer jy blatjang byvoeg, smaak alles na . . . blatjang. Jy moet baie seker van jou saak wees — is dit wat jy regtig beplan het? Ek gebruik feitlik nooit blatjjang in ‘n resep nie, behalwe wanneer ek kerrie-eiers à la Kook en Geniet maak of iets wat regtig daarna vra. Vir my is en bly dit die wonderlikste towerpotjie op die tafel wat elkeen kan byvoeg na smaak. (Proe tog net in hemelsnaam die kos voordat jy dit met blatjang doodmoer en die kok snikkend kamer toe laat vlug!)
Een van my ander gunstelinge is mangoblatjang. Jy moet so ‘n bietjie soek om dit in die hande te kry. Ek het my voorgeneem om hierdie seisoen my eie mangoblatjang te maak, maar tot dan koop ek maar. Van die groot supermarkte hou dit so once-in-a-bluemoon aan. (Ek het dit al by Woollies en Pick ‘n Pay opgespoor, maar dit was ‘n vloekskoot.) Toe ek nou die dag egter komyn en foelie-spesery by Atlas Trading Store gaan koop het, het ek toevallig uitgevind hulle hou dit aan. Vra vir Sweet Mango Chutney.
Hier is die twee wonderlikste resepte met mangoblatjang. Klink eenvoudig, maar dis ongelooflik lekker!
Hoender gemarineer in Jogurt en Mangoblatjang
(Hierdie resep kom uit Anneka Manning se Good Food (Konemann). Anneka is die kosredakteur van die tydskrif Australia’s Good Food.)
Jy het nodig
Een hoender van 1,8 kg (of hoenderstukke)
Olyfolie
vir die marinade
500 g (2 koppies) Bulgaarse jogurt
120 g (⅓ koppie) mangoblatjang
1 teelepel borrie
½ teelepel wonderpeper (allspice)
So maak mens
Meng die jogurt, mangoblatjang, borrie en wonderpeper goed. Spoel die hoender onder koue lopende water en droog liggies met ‘n papierhanddoek. Gebruik ‘n lepel om die marinade in die hoenderholte te skep en gebruik dan jou hande om die res van die marinade aan die buitekant van die hoender te smeer om dit heeltemal te bedek. Sit die hoender in ‘n bak, bedek en laat vir ten minste ‘n uur lank in die yskas marineer. (Dis natuurlik beter om al die geure oornag te laat intrek.) Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer ‘n oondpan met die olyfolie. Sit die honder in die pan en rooster vir ongeveer 1½ uur of tot die sappe helder vloei wanneer jy die boud met ‘n skerp pen toets. Haal uit die oond, bedek losweg met foelie en laat 15 minute lank rus voordat jy dit tafel toe neem. Ek het al die wonderpeper en borrie met paprika vervang en dis net so lekker.
Die oorskiethoender smaak ook heerlik koud. Ek sit die oorskietvleisies op ‘n warmgemaakte panini met ‘n mengsel van vars roket, jongspinasie en waterkers (jy koop die mengsel so saam by Woolies. Enige blaar sal werk — maar dit gaan beslis nie dieselfde smaak nie!). Bo-op kom ‘n ruim skeppie mangoblatjang en ‘n blertsie creme fraiche of lekker dik Griekse jogurt.
My ander groot mangoblatjang-gunsteling is hierdie een (en ek is mal oor die storie):
Dronkmansbroodjie
Die heerlike dekadente toebroodjie het sy naam gekry by ‘n edelman wat graag laatnag in drinkplekke gekuier het oor glase en glase pienk jenewer. Hy het dan gewoonlik die kok opdrag gegee om vir hom dié toebroodjie op te dis.
Jy het nodig:
(Per persoon)
2 snye roosterbrood of 1 dikker sny vir ‘n oopbroodjie
Botter
Gerookte salm
Mangoblatjang
Warm, brosgebraaide spek
Rooipeper (cayenne)
So maak mens:
Botter elke snytjie roosterbrood. bedek met ‘n dik laag gerookte salm. Smeer ‘n titseltjie mangoblatjang bo-oor (baie min, anders word die subtiele salmsmaak oordonder. Sprinkel die spek en rooipeper bo-oor. Bedek met tweede sny of bedien net so oop.
PS. Wees versigtig met die rooipeper. Net ‘n titseltjie is genoeg.
Jy hoef nie groot te drink om die broodjie te geniet nie. Dis ‘n baie lekker ligte aandete, veral na die oordaad van ‘n groot Sondagmiddagmaal.







Recent Comments