You are browsing the archive for sop.




Koningskos met ‘n klankie

July 20, 2012 in sop

Ek was eerstejaar en Dingetjie vierdejaar toe ek in dieselfde universiteitskoshuis as sy beland het. Sy was pragtig – heuplengte blonde hare, klein, fyn en petite, met rondings op al die regte plekke. Nodeloos om te sê, sy het nie juis ‘n tekort aan manlike bewonderaars gehad nie en was feitlik elke aand saam met ‘n ander ou uit.

Natuurlik het sy ook die venyn by die ander koshuisbewoners aangewakker en dit was ook nie lank voor die giftonge ‘n klankie aan haar naam laat kleef het nie. (Vroue kan so onverdraagsaam wees teenoor lede van hul eie geslag wat met meer geseënd is as hulle.) Die feit dat sy feitlik elke keer die aandklokreël verbreek het en telkens uitgesluit is, het natuurlik nie dinge makliker gemaak nie en sy was ‘n hele paar keer op die rooi tapyt voor huiskomlede wat met saamgeperste lippies hul afguns kwalik kon verberg.

Maar Dingetjie se dag het gekom. Ná universiteit het sy vir haar naam gemaak – een sonder ‘n klankie. Ek het haar telkens op professionele vlak teengekom en was elke keer verstom oor die mens agter die stories.

Later jare het ons mekaar meer dikwels op plekke in die buurt raakgeloop – in die videowinkel, voor die rakke van Woolies en elke keer het ek gevoel ek is deur ‘n engel aangeraak. Maak nie saak hoe goor ek daai dag gevoel het nie – sy het elke keer iets moois te sê gehad en my goed oor myself laat voel.

En toe ek hierdie blomkoolsopresep gekook het, kon ek nie anders as om aan Dingetjie te dink nie . . .

Kyk, blomkool kan jy nie kook sonder dat daar ‘n klankie in die huis rondhang nie. Daar is verskillende rate oor hoe om dit minder te maak, maar op die ou einde bly kool maar kool.

Maar gaan lees ‘n bietjie op oor hierdie onwelriekende blom wat deur die ou Romeine gekweek is. Die voedingswaarde is ongelooflik. As jy elke dag ‘n porsie blomkool eet, hoef jy nie kanker of rumatiek te vrees nie. Dis nie ouvroustories nie – navorsers aan verskillende universiteite het eksperimente gedoen. Borskanker, kanker van die blaas . . . noem maar op. En met die kombinasie van blomkool en borrie sal die manne nooit prostaatkanker kry nie.

Moenie dat die eenvoud van die resep jou afskrik nie — dis heerlik. Die eindresultaat sal jou smaakbekertjies laat huppel en sing. Nou die dag, toe my groenteman vir my die heerlike vars blomkool bring, het ek onmiddellik die soppot nadergetrek. Dis toe dat ek weer aan Dingetjie dink . . .
Jy het nodig

100g gesoute botter
1 kg vars blomkool in klein blommetjies gebreek
3 preie, geskil, in ringetjies gekap en goed afgespoel (jy wil nie sandkorrels onder jou tande hê nie!)
4 knoffeltoontjies, geskil en gekap
3 takkies vars tiemie (ek het ook al gekapte pietersielie gebruik – dis net so lekker)
2 lourierblare
800 ml hoenderaftreksel

So maak mens

Smelt die botter in ‘n kastrol en roer die blomkoolblommetjies daarby. Voeg die knoffel, tiemie, preie en lourierblare by en braai liggies voordat jy die hoenderaftreksel byroer. Laat dit stadig kook totdat die blommetjies sag is. Verwyder die lourierblare en tiemietakkies en verpulp die sop met jou handmenger of laat effens afkoel en verpulp in jou voedelsverwerker. Verhit die sop weer oor ‘n matige hitte (as jy dit eers laat afkoel het vir die voedselverwerker). En, nee, ek het nie die sout en peper vergeet nie – hierdie sop het dit werklik nie nodig nie.

Vlamrooi fluweel – geroosterde rooisoetrissiesop

July 20, 2012 in sop

Die winterkoue het my altyd oor middagetes op kantoor gehou (dis lank voor ek van die huis af begin werk het). Maar net so af en toe was ek gedwing om my neus by die gebou uit te steek. Soos die dag toe my selfoon se laaier gekalf het en ek noodgedwonge een moes gaan soek.

Ek het kortpad gekies oor Pierplein tussen die mooi beelde van Egon Tania deur. Die beelde is onder die talle bome oor die hele plein versprei. By die eerste aanblik lyk hulle na lewende mense –’n ma met haar peuter en sy skopfietsie, ’n werker in ’n oorpak met ’n mus op die kop, ’n sakeman met ’n selfoon teen die kop, ’n man wat rustig en ontspanne op een van die vele banke onder die koeltebome sit, en ’n lewensmoë, middeljarige vrou wat ’n inkopiesak dra.

Daarvandaan is dit deur die gangetjie met die vlieënde, fluitende haaie van Ralph Borland by Jetty-plein. Hulle sweef op die wind en, as jy mooi luister, hoor jy hoe hulle sing van die see en die watersoom wat eens tot hier gereik het.

Suiwer visuele ontvlugting, het ek by myself gedink, en gewonder waarom ek middag na middag teen my rekenaarskerm sit en vaskyk terwyl ek dít kan ervaar . . .

Maar dit was nog lank nie die einde nie. By die groenteventer in die St Georges-wandelgang val my oog op die sakkies met guitige helderrooi soetrissies so tussen die stemmige donkergroen van avokado en bedeesde gespikkelde geeloranje van die papajas. Selfs die rooi van die Star King appels lyk maar bleek teen dié flambojante vruggies. Soos ‘n Matisse tussen die Vermeers . . .

En uit hierdie kleurryke fees vir die oog en die hart is hierdie vlamrooi, fluweelsop gebore.

Jy het nodig

6 kleinerige rooi soetrissies
7 heel, geskilde knoffeltoontjies
7 geskilde salotte
3 groterige rooiuie, geskil en in kwarte gesny
7 takkies roosmaryn
7 eetlepels olyfolie
13 baba-preie
1 liter hoenderaftreksel (groente-aftreksel vir vegetariërs)
Maldon-sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

(Vir hierdie sop wou ek volkome beheer oor die smaak hê en het toe eenkant in ‘n pot spesiaal ‘n aftreksel daarvoor gekook. Maar daar is niks verkeerd met watter aftreksel jy ookal wil gebruik nie. Al wat ek gedoen het is om 1 groterige gekapte ui, 4 hoendervlerkies, 3 gekneusde knoffeltoontjies, 3 gekapte selderystingels, 1 groot wortel, in muntstukkies gesny, 3 roosmaryntakkies in ‘n eetlepel of twee olyfolie te braai en ‘n halfuur lank baie stadig saam te smoor voordat ek 1 liter water bygegooi en dit stadig vir ‘n uur lank laat prut het. Gooi nou die vloeistof deur ‘n sif en siedaar!)

So maak mens

Sny die soetrissies in die helfte deur en plaas onder die oondrooster totdat swarterige blasies begin vorm. Haal dit vinnig uit en gooi dit in ‘n plastieksak wat jy toebind en eenkant laat om af te koel. Plaas intussen die salotte, uie, knoffel en roosmaryn in ‘n oondbak en sprinkel die olyfolie bo-oor. Plaas in ‘n voorafverhitte oond van 200˚C en rooster vir ongeveer 40 minute voordat jy die skoongemaakte babapreie bo-op plaas en nog vir ‘n verdere 10 minute rooster.  Nou haal jy die soetrissie uit die plastieksak, trek die velletjies af, verwyder die pitte en die wit stukkies. Plaas dit bo-op die geroosterde groente en rooster saam vir nog 10 minute. Maak nou alles fyn met ‘n handmenger of in ‘n voedselverwerker en roer by die warm aftreksel. Meng alles deeglik saam met die handmenger (of in die voedselverwerker) en laat liggies vir ongeveer tien minute prut. Proe en geur met sout en peper na smaak. Onthou, as jy ‘n kommersiële hoenderaftreksel gebruik, sal jy waarskynlik minder sout nodig hê.

Jy kan dit met ‘n titseltjie crème fraiche garneer wanneer jy dit voorsit, maar dis regtig nie nodig nie. Dis die kleur van vlamrooi fluweel. En die smaak . . .

Liefdesdoepa en vredesoffers

April 30, 2012 in sop

Wanneer die seisoene verander, bring dit ‘n vreemde onrus. Alles dui op verandering en dit skep  terselfdertyd ‘n soort opwinding . . .  nuwe verwagtinge. Dis ook gewoonlik die tyd wat alles so effe van balans gegooi is en die baklei wag net om te gebeur. Maar na die groot rusie wag daar die lekkerte van versoening. En daar is niks wat so vinnig klaarspeel met wrokkige gemoedere as hierdie vredesop nie:

Sensuele sampioensop

Jy het nodig:

3 eetlepels botter
1 eetlepel olyfolie
250g knopiesampioene
250g bruinsampioene
250g portabello sampioene
3 knoffeltoontjies
1 rooiui
1 rooirissie
1 lemmetjie
3 eetlepels Portwyn
3 koppies kookwater
1 koppie rooiwyn
Maldon sout
Varsgemaalde swartpeper

So maak mens:

Skil en kap die rooiui. Sny die rooirissie in die lengte deur en ontpit. (Ek gebruik ‘n teelepeltjie om dit uit te skraap. Jy kan altyd die pitte laat bly, maar dan is die rissiesmaak te oorweldigend.) Skil die knoffelhuisies, kneus en kap fyn. Kap die sampioene in stukkies. (Ek spoel nooit sampioene af nie. Hulle is soos sponse en absorbeer die water. As jy dan moet, kan jy hulle een-een met ‘n nat lappie afvee. Maar dis regtig nie nodig nie.) Plaas ‘n swaarboomkastrol op ‘n warm stoofplaat. Smelt die botter en olyolie saam.  Braai die ui, knoffel en rissie vlugtig saam. Voeg die sampioene by en roer goed deur. Wanneer dit lyk of die sampioene te droog braai, voeg die portwyn by. Rasper die lemmetjieskil bo-oor. Sny die lemmetjie in die helfte deur en druk die sap bo-oor uit. As al die vloeistof weggekook het, voeg jy die kookwater en rooiwyn by. (Dis belangrik om te wag tot al die vloeistof weggekook het, want dan is die smaak net soveel meer intens – geduld is altyd die geheime bestanddeel wanneer jy kook – dis wanneer dit heksery word en die towerkrag losgelaat word.) Kook nou stadig op ‘n heelwat matiger stoofplaat. Ná ‘n halfuur kan jy die pot van die stoof af haal en die mengsel deur jou versapper sit. Die sop sal so ‘n diep, donkerbruin kleur en ‘n modderige tekstuur hê. Voeg nou sout en peper na smaak by.  Bring weer tot byna kookpunt. Moenie laat kook nie. Skep op en rasper nog so ‘n bietjie lemmetjieskil bo-oor, net vir die kleur. Jy kan ‘n skeutjie room of crème fraiche ook bo-op skep as jy wil.

Gazpacho — Tamatiesop vir die somer

April 29, 2012 in sop

In die rolprent Women on the Verge of a Nervous Breakdown los ‘n radio-sepiester (Carmen Maura) se getroude minnaar haar vir ‘n ander, jonger minnares en sy probeer selfmoord pleeg. Sy maak vir haar gazpacho en moer ‘n hele bottel slaappille daarin. Maar sy kry nie kans om dit te drink nie. Die een vreemde besoeker na die ander daag by haar woonstel op en help hulleself aan die gazpacho. Op die ou einde sit sy met ‘n hele woonstel vol slapende siele en sy is nog springlewendig.

Ek vrek nie net oor die prent nie, maar oor hierdie lekker somersop ook. Dis vinnig en maklik om te maak. En dis ‘n malse ontploffing van smaak.

Vir die gazpacho (sonder die pille) het jy nodig

6 groot ryp tamaties, afgeskil
(jy weet natuurlik dat jy tamaties skill deur dit in kookwater te dompel en dan die skilletjies af te trek)
1 knoffeltoontjie
2 snye witbrood, fyngekap
1 groot ui
1 groen soetrissie
1 Engelse komkommer
90 ml olyfolie
60 ml (4 eetlepels) suurlemoensap
sout
rooipeper
440 ml tamatiesap

Verwerk die tamaties, knoffeltoontjie en brood in ‘n voedselverwerker. Sny ui en groenrissie in groot stukke en skil komkommer. Voeg by en verwerk saam met die tamaties. Gooi deur ‘n sif in ‘n groot opskepbak en verkoel in yskas. Net voor jy die gazpacho voorsit, meng jy die olyfolie, suurlemoensap, sout, rooipeper en tamatiesap saam en roer dit by die verkilde mengsel. Voeg ysblokkies by indien nodig.

Switch to our mobile site